Stigtingsteks Afrikaans

Gents Centrum voor het Afrikaans en de studie van Zuid-Afrika

Gentse sentrum vir Afrikaans en die studie van Suid-Afrika

Ghent Centre for Afrikaans and the study of South Africa

 

Inisiatiefnemers

Prof. Jacques van Keymeulen (Vakgroep Taalkunde – Nederlands)

Prof. Yves T’Sjoen (Vakgroep Letterkunde – Nederlands)

Dr. Annelies Verdoolaege (Vakgroep Talen en Culturen – afdeling Afrikaanse Talen en Culturen)

 

0. Agtergrond

Suid-Afrika is die belangrikste ekonomiese en politieke mag van Afrika, en speel op talle gebiede ‘n leiersrol vir die hele vasteland. Dié land vorm byvoorbeeld saam met Brasilië, Rusland, Indië en China die sogenaamde BRICS-lande: die geselskap van die opkomende ekonomiese magte. Dit weerspieël ook in die bande met België, want Suid-Afrika is vir Belgiese maatskappye die belangrikste vennoot in Afrika. Danksy Afrikaans – ná Zoeloe en Xhosa die derde grootste ‘huistaal’ van Suid-Afrika – is daar ‘n gevestigde kulturele band tussen Suid-Afrika en Vlaandere en Nederland. Afrikaans en Nederlands is inderdaad tot op groot hoogte onderling verstaanbaar; en die woordeskat stem vir ongeveer 85% ooreen.

Ongeag persepsies word Afrikaans deur meer nie-wit sprekers gepraat as deur wit sprekers en is meer as 50% van die eerstetaalsprekers van Afrikaans nie wit nie. Volgens die sensus van 2011 was daar ’n toename van meer as 800 000 sprekers van Afrikaans in vergelyking met die sensus van 2001. Verder is Afrikaans ook in Namibië ‘n baie belangrike taal: die meerderheid van die bevolking kan Afrikaans gebruik , as moedertaal of as lingua franca vir die verskillende bevolkingsgroepe.

Hierdie dokument het ten doel om kulturele en universitêre samewerking, wat weens die apartheidstydperk tot 1994 opgeskort is, weer ‘n kragtige impuls te gee: die studie van die Afrikaanse taal- en letterkunde in die baie diverse meertalige en multikulturele konteks van Suid-Afrika is in dié verband baie belangrik. Die vennootskap wat in hierdie dokument voorgestel word, wil sy aktiwiteite nie tot Afrikaans beperk nie, maar wil Afrikaans ook gebruik as hefboom vir die studie van die hele Suid-Afrikaanse geskiedenis en samelewing.

In 2007 is aan die Universiteit van Gent (België) die vak ‘Afrikaans: Taal-en Letterkunde’ begin, in ‘n vennootskap tussen die Vakgroepe Taalkunde, Letterkunde asook Tale en Kulture. Dié vak, wat met groot belangstelling van die studente kan spog (in 2013 was daar sowat 60 studente), word tans doseer deur prof Jacques van Keymeulen (Taalkunde), prof Yves T’Sjoen (Letterkunde) en dr Annelies Verdoolaege (Tale en Kulture). Afgesien van die onderrigaspek is gaandeweg ook navorsing oor Afrikaans verder uitgebou, en dit het op sy beurt gelei tot ‘n toenemende aantal BA- en meesterskripsies. Tans word daar ook navorsing op doktorale vlak in die vooruitsig gestel.

Vanaf 2011 is ook ‘n ‘Internasionale Seminaar Afrikaans’ georganiseer (in opvolging van die ‘Seminaar Afrikaans’ van die Universiteit van Hasselt), gerig op buitelandse studente en dosente in Afrikaans. In die aanbied van hierdie seminaarreeks het navorsingsterugvoer ‘n belangrike plek gekry. Daar word ook steeds meer vennootskappe met Suid-Afrikaanse universiteite gesluit, waarin die taalverwantskap tussen Afrikaans en Nederlands uiteraard studente- en dosente-uitruiling sterk figureer. In die Poëziecentrum op die Vrijdagmarkt in Gent is daar selfs die grootste versameling Afrikaanstalige poësie (buite Suid-Afrika self).

Die voorgestelde vennootskap sit verder op die gebied van navorsing ‘n tradisie voort van die fakulteit Lettere en Wysbegeerte. Die navorsing van die Afrikaanse letterkunde is al geruime tyd ‘n belangrike deel van die aktiwiteite van prof Yves T’Sjoen. Prof Jacques van Keymeulen is aktief in Suid-Afrika by taalkundige veldopnames. Dr Annelies Verdoolaege het nie net ‘n proefskrif geskryf oor ‘n Suid-Afrikaanse onderwerp (die Waarheids- en Versoeningskommissie) nie, maar sy was ook assistent-koördineerder van ‘n grootskaalse (tienjaar-) projek van die Vlaamse Interuniversitaire Raad (VLIR) aan die Universiteit van Wes-Kaapland, wat onder leiding staan van prof Stef Slembrouck. Suid-Afrika is ook een van die tien lande wat deur die VLIR gekies is as prioriteit vir akademiese samewerking met die ‘Suide’.

1. Besluitvormingsproses

Die voorstellers van die projek het binne die fakulteit Lettere en Wysbegeerte aan die Universiteit van Gent aan alle potensiële belangstellendes ‘n konsepteks gestuur waarin ‘n vennootskap rakende Afrikaans en die studie van Suid-Afrika voorgelê is.

Die volgende persone het positief hierop gereageer:

  • Vakgroep Taalkunde: Jacques van Keymeulen, Timothy Colleman, Mieke van Herreweghe, Stef Slembrouck.
  • Vakgroep Letterkunde: Yves T’Sjoen, Gert Buelens, Stef Craps, Liselotte Vanderbussche.
  • Vakgroep Talen en Culturen: Annelies Verdoolaege, Michael Meeuwis, Gilles-Maurice de Schryver.
  • Vakgroep Kunst-, Muziek- en Theaterwetenschappen: Christel Stalpaert.

Ná konsultasie met die bogenoemde individue is die konsepteks goedgekeur, wat weer ná gunstige terugvoer deur die fakulteitsraad, deur ’n brief van die Rektor (gedateer 17.02.2014) van UGent bekragtig is. Die samenwerkingsooreenkoms met ’n eie benaming Gents Centrum voor het Afrikaans en de studie van Zuid-Afrika souvervolgens tot stand kom.

1. Naam van die vennootskap

Die vennootskap staan bekend as:

  • Gents Centrum voor het Afrikaans en de studie van Zuid-Afrika (GAZ)
  • Gentse Sentrum vir Afrikaans en die studie van Suid-Afrika (GSASA)
  • Ghent Centre for Afrikaans and the study of South Africa (GCASA)

URL: www.afrikaans.ugent.be

2. Hoof van die vennootskap

Die hoof van die vennootskap word ‘voorsitter’ genoem, en hierdie persoon word vir ’n tydperk van twee jaar gekies deur die lede van die sentrum vir navorsing, met ‘n 2/3-meerderheid van die stemme wat uitgebring is. Die voorsitterskap is verlengbaar. Met die oog op die stigtingsproses is Jacques van Keymeulen as voorsitter aangewys.

3. Beskrywing van die aktiwiteite van die vennootskap

Die vennootskap sluit die volgende in:

alle aktiwiteite op die gebied van onderwys, navorsing en dienste binne die fakulteit Lettere en Wysbegeerte in verband met Afrikaans (meer bepaald die taal Afrikaans, soos gepraat in Suid-Afrika en Namibië) en die letterkunde van Afrikaans in die meertalige en multikulturele maatskaplike konteks van Suid-Afrika.

Die vennootskap sal bestaande navorsing sigbaarder maak deur onder meer die organisasie van studiedae, werkswinkels, seminare en seminaarreekse. Dit sal ook nuwe navorsing aanpak en stimuleer, onder meer deur die aantrek van navorsingsbefondsing , op beide magister- asook doktorale vlak – dit moet by voorkeur in samewerking met instansies in Suid-Afrika geskied. Daarby sal onder andere gepoog word om aansluiting te vind by die onlangse besprekings en ontwikkelinge rakende die standaardisering, destandaardisering en herstandaardisering van Afrikaaans en die posisie van Afrikaans ten opsigte van die tien ander amptelike tale van Suid-Afrika. Spesiale aandag sal gegee word aan taalvariasie binne Afrikaans, ten einde die geskiedenis van die taal vanuit nuwe perspektiewe te kan beskryf en die literêre produksie binne die maatskaplike konteks te kan aandui.

Die konkrete werking sal onder meer die volgende betrek:

  • Die verdere uitbreiding van onderrig oor Afrikaans en Suid-Afrika (en hiermee saam die voorbereiding van ‘n nuwe kurrikulum in ‘n tweejarige meestersgraadstruktuur);
  • Die organiseer van die Internasionale Seminaar Afrikaans;
  • Die organiseer van wetenskaplike byeenkomste oor die Afrikaanse taal- en letterkunde en oor Suid-Afrika;
  • Die bevordering van navorsing op doktorale vlak deur die verkryging van navorsingsbefondsing;
  • Die organiseer van lesings oor Afrikaans en Suid-Afrika vir ‘n wye publiek.

4. Vermelding van die betrokke fakulteite, vakgroepe en ‘ZAP’[1]-lede

Die vennootskap werk oor vakgroepgrense heen en word interfakultêr georganiseer. Daar sal saamgewerk word met die Gents Afrika Platform (GAP), wat op die vlak van die ‘Associatie UGent’ funksioneer. Die waarde van die nuwe vennootskap in vergelyking met die bestaande toestand lê in die institusionaliseer en realiseer van samewerking tussen ‘n aantal vakgroepe van die fakulteit.

Die lidmaatskap van die vennootskap is grootliks toegespits op ZAP-, AAP[2]-en WP[3]-lede van die fakulteit Lettere en Wysbegeerte van UGent. Die aansoek om hierby betrokke te raak, geskied deur ’n skriftelike versoek wat gerig word aan die voorsitter van die Sentrum, wat weer advies kan vra aan die ander lede van die Sentrum. Lidmaatskap word deur ’n eenvoudige skriftelike mededeling beëindig. Afgesien van die gewone lede is daar ook geassosieerde lede, wat kan behoort tot die ZAP-, AAP- of WP-vlakke van ander fakulteite of ander universiteite.

Vir besluite word na ‘n konsensus gesoek. In die geval van ’n verskil van mening geld ‘n gewone meerderheid van die stemme wat uitgebring deur die gewone lede. By ‘n staking van stemme het die voorsitter die beslissende stem.

Lys van die gewone lede (Akademiese personeel van die UGent)

Vakgroep Taalkunde

  • Prof. Jacques van Keymeulen
  • Prof. Timothy Colleman
  • Prof. Stef Slembrouck
  • Prof. Mieke van Herreweghe

Vakgroep Letterkunde

  • Prof. Yves T’Sjoen
  • Prof. Gert Buelens
  • Prof. Stef Craps
  • Dr. Liselotte Vandenbussche

Vakgroep Tale en Kulture

  • Dr. Annelies Verdoolaege
  • Prof. Michael Meeuwis
  • Prof. Gilles-Maurice de Schryver

Vakgroep Kuns-, Musiek-en Theaterwetenschappen

  • Prof. Christel Stalpaert

Lys van die geassosieerde lede (in Suid-Afrika, Namibië of elders)

  • Prof. Wannie Carstens (Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus; gewese voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns)
  • Dr. Michael le Cordeur (Universiteit van Stellenbosch; voorsitter Afrikaanse Taalraad)
  • Prof. Rufus Gouws (Universiteit van Stellenbosch)
  • Prof. Ilse Feinauer (Universiteit van Stellenbosch)
  • Prof. Ronel Foster (Universiteit van Stellenbosch)
  • Prof. Louise Viljoen (Universiteit van Stellenbosch)
  • Prof. Dorothea van Zyl (Universiteit van Stellenbosch)
  • Prof. Hermann Giliomee (Emeritus, Universiteit van Stellenbosch)
  • Prof. Danie Prinsloo (Universiteit van Pretoria)
  • Dr. Nerina Bosman (Universiteit van Pretoria)
  • Prof. Andries Visagie (Universiteit van Pretoria)
  • Prof. Hein Willemse (Universiteit van Pretoria)
  • Prof. Willie Burger (Universiteit van Pretoria)
  • Prof. Marisa Keuris (Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria)
  • Dr. Elvis Saal (Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria)
  • Prof. Heilna du Plooy (Emeritus, Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus)
  • Prof. Hein Viljoen (Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus)
  • Prof. Bernard Odendaal (Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus).
  • Prof. Steward van Wyk (Universiteit van Wes-Kaapland, Bellville)
  • Prof. Frank Hendricks (Universiteit van Wes-Kaapland, Bellville)
  • Me. Anastasia de Vries (Universiteit van Wes-Kaapland, Bellville)
  • Prof. Charlyn Dyers (Universiteit van Wes-Kaapland, Bellville)
  • Prof. Hennie van Coller (Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein; gewese voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns )
  • Prof. Theodorus du Plessis (Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein)
  • Prof. Ernst Kotzé (Emeritus, Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit, Port Elizabeth)
  • Prof. Anél Otto (Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit, Port Elizabeth)
  • Prof. Jac Conradie (Emeritus, Universiteit van Johannesburg)
  • Prof. Theresa Biberauer (University of Cambridge & Universiteit van Stellenbosch)
  • Prof. Paul T. Roberge (University of North Carolina at Chapel Hill/ Universiteit van Stellenbosch)
  • Prof. dr. Chrisna Beuke-Muir (University of Namibia)
  • Dr. Eep Francken (Emeritus, Universiteit Leiden)
  • Dr. Ineke van Kessel (Afrika-Studiecentrum, Leiden)
  • Prof. Robert Ross (Universiteit Leiden)
  • Prof. Ena Jansen (Vrije Universiteit van Amsterdam & Universiteit van Amsterdam)
  • Prof. Willy Martin (Emeritus, Vrije Universiteit Amsterdam)
  • Prof. Luc Renders (Universiteit Hasselt)
  • Dr. Reinhild Vandekerckhove (Universiteit Antwerpen)
  • Prof. Kris van de Poel (Universiteit Antwerpen)
  • Prof. Pol Cuvelier (Universiteit Antwerpen)
  • Dr. Gerald Stell (Vrije Universiteit Brussel)

5. Motivering vir die stigting

Die vennootskap het ten doel om die samewerking tussen die geaffilieerde vakgroepe en die samewerking met ‘n aantal Suid-Afrikaanse en Europese universiteite te institusionaliseer. Op hierdie manier staan ons sterker teenoor allerlei liggame, onder andere om navorsingsbefondsing te bekom of om allerlei aktiwiteite te laat realiseer.

6. Bykomende waarde van die te stigte vennootskap teenoor die vakgroep (en) en fakulteit (en) van die inisieerder(s)

Die vennootskap het as bykomende waarde die groter sigbaarheid van onderwys, navorsing en diens rakende Afrikaans en Suid-Afrika. Die voorstellers verwag dat die inisiatief internasionale weerklank sal kry, beide in Suid-Afrika en daar buite. Dit is die uiteindelike bedoeling van die Universiteit Gent om internasionaal erkende kundigheid op te bou oor die Afrikaanse taal- en letterkunde en die studie van Suid-Afrika.